Kumbh Mela

Kumbh Mela
कुम्भ मेला
Pelgrims in 2010 by die Kumbh Mela in Haridwar.
Pelgrims in 2010 by die Kumbh Mela in Haridwar.
Soort gebeure  Godsdiensfees
Geloof Hindoeïsme
Gehou Elke 12 jaar per plek
Vorige 2016 (Ujjain)
Volgende 2022 (Haridwar)
Plekke Haridwar, Allahabad, Nashik
(of Trimbak) en Ujjain
Land Indië

Kumbh Mela (IFA: ˌkʊm ˈmeɪlə) is in Hindoeïsme ’n massabedevaart waarin Hindoes saamkom om in ’n heilige rivier te bad. Vier feeste word tradisoneel as Kumbh Melas erken: die Haridwar Kumbh Mela, Allahabad Kumbh Mela, Nashik-Trimbakeshwar Simhastha en Ujjain Simhastha. Hulle word om die beurt by een van die volgende plekke gehou: Haridwar, Allahabad, Nashik (of Trimbak) en Ujjain. Die hooffeesterrein lê aan die oewer van ’n rivier: die Ganges by Haridwar, die Triveni Sangam (samevloei van die Ganges, die Yamuna en die onsigbare Sarasvati) by Allahabad, die Godavari by Nashik en die Shipra by Ujjain. Daar word geglo as ’n mens in die riviere bad, word al jou sondes weggewas.[1]

Die Kumbh Mela word op enige gegewe plek elke 12 jaar gehou. Daar is ’n verskil van sowat drie jaar tussen die Kumbh Melas by Haridwar en Nashik; die feeste by Nashik en Ujjain word in dieselfde jaar of in opeenvolgende jare gehou. Die presiese datum word bepaal deur ’n kombinasie van die posisies van Jupiter, die Son en die Maan in die Diereriem. By Nashik en Ujjain kan die Mela gehou word terwyl ’n planeet in die Leeu (Simha in die Hindoe-astrologie) is; in so ’n geval is dit ook bekend as Simhastha. By Haridwar en Allahabad word ’n Ardha ("Halwe") Kumbh Mela elke ses jaar gehou; ’n Maha ("Groot") Kumbh Mela vind elke 144 jaar plaas.

Dis onseker presies hoe lank die fees al gehou word. Volgens die Middeleeuse Hindoemitologie het Wisjnoe druppels amrita (die drankie vir onsterflikheid) op vier plekke gestort terwyl hy dit in ’n kumbha (pot) vervoer het. Dié vier plekke is geïdentifiseer as die plekke waar die Kumbh Mela in die moderne tyd gehou word. Die naam beteken letterlik "kumbha-fees". Dit is in Hindi as "Kumbh" bekend (vanweë die weglating van die schwa), maar in Sanskrit en sommige ander Indiese tale word die oorspronklike Kumbha Mela meestal gebruik.[2]

Die fees is een van die grootste vreedsame saamtrekke op aarde en word beskou as die "wêreld se grootste byeenkoms van godsdienspelgrims".[3] Daar is geen metode om vas te stel presies hoeveel pelgrims die feeste bywoon nie, en die getal wat op die belangrikste dag bad, verskil van bron tot bron. Na raming het 120 miljoen mense in 2013 die Maha Kumbh Mela in Allahabad oor ’n tydperk van twee maande besoek,[4][5] insluitende meer as 30 miljoen op ’n enkele dag: 10 Februarie 2013 (die dag van Mauni Amavasya).[6][7]

  1. McLean, Kama. "Seeing, Being Seen, and Not Being Seen: Pilgrimage, Tourism, and Layers of Looking at the Kumbh Mela." (2009): 319-41. Ebscohost. Web. 28 Sept. 2014..
  2. "Kumbh Mela 2015–16: Nashik City" (PDF). Police Commissionerate, Nasik City. 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 4 Maart 2016. Besoek op 15 April 2017.
  3. The Maha Kumbh Mela 2001 indianembassy.org
  4. "Record 120 million take dip as Maha Kumbh fest ends". Khaleej Times (in Engels). 12 Maart 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2018.
  5. "Photos: Kumbh Mela, world's biggest religious festival". CNN. 25 Maart 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2017.
  6. "Over 3 crore take holy dip in Sangam on Mauni Amavasya". IBNLive. 10 Februarie 2013.
  7. Rashid, Omar (11 Februarie 2013). "Over three crore devotees take the dip at Sangam". The Hindu (in Engels). Chennai. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Desember 2019.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search